Groot Proletariese Kulturele Rewolusie | ||
’n Groot portret van Mao Zedong deur Zhang Zhenshi by Tiananmen. | ||
Name (taalvariante) | ||
Tradisionele Chinees | 無產階級文化大革命 | |
Vereenvoudigde Chinees | 无产阶级文化大革命 | |
Pinyin | wúchǎn jiējí wénhuà dà gémìng |
Die Kulturele Rewolusie of Kultuurrewolusie, amptelik die Groot Proletariese Kulturele Rewolusie, was van 1966 tot 1976 ’n sosiaal-politieke beweging in China. Dit is van stapel gestuur deur Mao Zedong, toe die voorsitter van die Kommunistiese Party van China. Die doel was om "ware" Kommunistiese ideologie in die land te bewaar deur dit te suiwer van oorblyfsels van kapitalisme en tradisionele elemente van die Chinese gemeenskap, en om Maoïstiese idees weer as die oorheersende ideologie in die party te vestig. Die rewolusie het die terugkeer van Mao in ’n magsposisie aangedui ná die mislukking van die Groot Sprong Voorwaarts. Die beweging het China in ’n groot mate polities verlam en die land se ekonomie en gemeenskap negatief beïnvloed.
Die rewolusie het in Mei 1966 begin nadat Mao beweer het dat bourgeois elemente die regering en die gemeenskap in die algemeen ingesypel het met die doel om kapitalisme te herstel. Om sy teenstanders in die Kommunistiese Party uit te skakel, het Mao daarop aangedring dat hierdie revisioniste (voorstanders van vreedsame eerder as rewolusionêre sosiale hervorming) deur ’n gewelddadige klassestryd verwyder word. China se jeug het hierop gereageer deur Rooi Garde-groepe deur die land te stig. Die beweging het na die weermag, stedelike werkers en die Kommunistiese leiers self uitgebrei. Dit het gelei tot wydverspreide faksiestryde in alle lae van die samelewing. In die topleierskap het dit gelei tot ’n massasuiwering van senior amptenare. In dieselfde tyd het Mao se persoonlike kultus enorme afmetings aangeneem.
In die geweld wat oor die hele land ontstaan het, is miljoene mense vervolg en is hulle blootgestel aan ’n groot verskeidenheid mishandelings, insluitende openbare vernedering, lukrake inhegtenisnemings, marteling, hardearbeid, volgehoue teistering, beslaglegging van eiendom en soms teregstellings. ’n Groot deel van die bevolking is aan gedwonge verskuiwing onderwerp, veral stedelike jeugdiges na plattelandse gebiede. Historiese nalatenskappe en artefakte is vernietig. Kulturele en godsdienstige terreine is geplunder.
Mao het amptelik verklaar dat die Kulturele Rewolusie in 1969 geëindig het, maar die aktiewe fase het aangehou tot met die dood van die militêre leier Lin Biao in 1971. Ná Mao se dood en die vervolging van die Bende van Vier in 1976, het hervormers geleidelik ontslae geraak van sy beleide van die Kulturele Rewolusie. In 1981 het die party verklaar dat die rewolusie "verantwoordelik was vir die hewigste terugslag en grootste verliese wat deur die party en die volk gely is sedert die stigting van die Volksrepubliek".[1]